Saturday, 31 August 2013

31 Augustus 2013. Pine Point (ME) na Cambridge (Boston) (MA)

Gaan hardloop vroeg vanoggend langs die see. Pine Point, Scarborough (net suid van Portland, Maine) is 'n slaperige vakansiedorpie met baie vakansiehuise, gastehuise en motelle. Alhoewel stil vroegoggend, is die plek propvol vir die vakansie naweek. Geniet die hardloop baie.

Na ontbyt laat ek die kar was, en alhowel bietjie bewolk, ry ek vir 80% van die reis na Boston met die kap af. Dis lekker. Ry deur talle klein vakansie dorpies aan die suidelike kus van Maine, van New Hampshire en Massachusetts. Die plekke is ook propvol en dis besig, alhowel ek nie haastig is nie. 

Ry deur o.a.Oak Hill, Saco, Kennebunk, Kennebunkport (waar George W. Bush sy vakansiehuis het), Wells, en Ogunquit. Van hierdie dorpies was van die eerste wat deur die setlaars gestig is en daar is byvoorbeeld 'n geskiedenis van 'n geveg tot die dood in 1692 tussen die setlaars aan die een kant en die Rooihuide en Franse aan die ander by Wells, wat deur die setlaars gewen is.

Ry daarna deur die suidelike deel van New Hampshire en gaan dan Massachusetts binne. Die akkomodasie waar ek Dv vir twee nagte gaan bly is in Cambridge (naby Harvard Universiteit) en ek kan maklik Boston self dmv o.a.die moltrein stelsel bereik.

Gaan eet iets ligs by Harvard Square. Dit is die begin van die semester en die plek is vol van terugkerende studente, en (opvallend), eerstejaars met hul ouers.

Lekker dag weereens.

Aangeplante gras om die duin te beskerm by Pine Point

Dis die dorpie waar ek gebly het


Restaurant waar ek gisteraand geeet het


Kennebunkport-baie mense vir die langnaweek



Gaan Massachusetts van New Hampshire binne


Aandfoto in die rigting van die "Harvard Yard"



Tonele naby Harvard Square in Cambridge (MA)-dis baie besig met terugkerende studente. Die bekende COOP boekwinkel.









 

30 Augustus. Quebec City na Pine Point, Scarborough in Maine

Kan nie glo dat die week saam met Gerrit vandag klaar is nie! 

Die tyd het regtig baie gou verbygegaan, soos dit maar doen wanneer jy iets geniet.

Dis betrokke (en het gedurende die nag gereen) wanneer ons na die Jean Lesage lughawe ry. Dis 'n klein, plaaslike lughawe en glad nie besig nie. Gerrit en ek eet by Tim Hortons op die lughawe ons omtbyt saam voordat ek die pad Suid terug na VSA toe vat. 

Die eerste deel van die pad in Quebec is 'n pragtige snelweg, maar daarna word dit moeiliker soos die pad deur die dorpies van Beauceville en Saint-Georges gaan en daar baie padwerke is. (Een ding is seker, ek dink nie die siviele ingenieursbedryf in Noord Amerika sukkel nie). 

Die landskap verander van plat na baie heuwelagtig soos ek Maine nader. Die deurgang na die VSA is makliker as in Montana en dit neem 3 minute, waarna ek Maine binnegaan deur een van die slegs twee teerpaaie wat Maine in die Noord ooste met Quebec verbind. Dit is verlate, wilde wereld hierdie met min karre, digte natuurlike en ongerepte boomplantasies wat baie heuwelagtig, of selds bergagtig is.

Soos ek na die suide vorder, word die tekens van beskawing al hou duideliker en word dit al hoe besiger. Ek ry deur Waterville, Augusta en Brunswick voordat ek by die winkel kompleks in Suid Portland aandoen om iets by die Apple winkel te koop. 

Dit is "Labor" day Maandag in die VSA-dus langnaweek-en ek is bevrees dat dit moeilik gaan wees om akkomodasie te kry. Gelukkig het ek al geleer om te vra, en die vriendelike leiding en hulp wat ek kry loop daarop uit dat ek voor 17h00 'n plek by 'n motel teen die Atlantiese Oseaan het, met direkte toegang tot die strand. Dit is by Pine Point in Scarborough (Liedtjie) net suid van Portland, Maine.

Eet seekos slaai en chowder vir aandete by die Clambake Restaurant (sien more se verslag)

Weereens 'n goeie dag, wat ek geniet het alhoewel ek die geselskap mis wat ek nou vir byna 5 weke gehad het.   

Gerrit met Tim Hortons koffie by die lughawe in Quebec City, net voor ek die pad vat


Ons se totsiens aan Quebec City (en later Quebec)


Die Noorde van Maine. Heuwelagtig, wild en bebos. Die blare wil-wil begin te verkleur 

Daar is heelwat mere in Noordelike Maine


Die Kennebec Rivier 


Die Wyman Dam op die Kennebec by die dorpie Moscow in Noordelike Maine 


Die pragtige geplaasde akkomodasie by die Lighthouse Motel in Scarborough waar ek oornag


My kamer is die heel op die punt onder-naby die see wat net agter die aangeplante gras op die duin is


Bertie op Pine Point se strand-geneem deur vakansiegangers van Montreal. Die strand front gedeeltelik Suid-Wes-kyk my skaduwee  17h30 in die middag 












Thursday, 29 August 2013

29 Augustus 2013. Montreal na Quebec City (QE)

Voor ontbyt hardloop Gerrit en ek die bult van ons hotel op na Mount Royal, die heuwel op die eiland in die St Lawrence Rivier waar Montreal sy namm vandaan kry. Ons beloning is pragtige vroegoggend uitsigte oor die stad en die rivier.

Na ontbyt vertrek ons in 'n Noord-oostelike rigting na Quebec City, die hoofstad van die provinsie Quebec. Ons ry met die A40 snelweg op die Noordoewer van die rivier tot net na Trois-Rivieres, waar ons die landlike pad 138 noord wat reg langs die rivier loop, en ook deur dorpie vir dorpie. Die groot skepe  op die rivier wat see toe vaar is interresant. By Trois-Rivieres doen ons ook by 'n Tim 
Hortons  winkel aan, waarvan die "donuts" en koffie Gerrit baie hou. Ons het 'n interresante gesprek met 'n klomp skoolkinders wat ook die lekkernye daar eet en vandag met die nuwe skooltermyn begin het.

Na die aankoms by ons hotel verken ons die ou stad van Quebec City, met sy roemryke geskiedenis. Die Fort by Quebec City domineer die St Lawrence rivier. Die Fort is oorspronklik deur die Franse gebou, deur die Engelse ingeneem en versterk en in die oorlog van 1812 teen die Amerikaners suksesvol verdedig. Die stad Quebec City lyk soos 'n deel van Franse Ou Europa en die voertaal is outomaties Frans. Dis 'n mooi en indrukwekkende stad.

Kan nie glo dat ek Gerrit more reeds by die lughawe moet gaan aflaai nie-die week het soos blits verby gegaan.

Vroegoggend Montreal van Mount Royal 



Die pad wat ons QC toe vat



Gerrit voor Tim Hortons-sy gunsteling winkel in Kanada


Die naam "Du Plessis" kom dikwels hier voor, Meiring en Tilda




Die St Lawrence seeweg en die dorpies daarlangs




Brug op die landlike pad 138 oos na QC


Die Franse afkorting  vir K F C-kon dit nie glo nie!


Die Fairmont Chateau Hotel in Quebec City


Die St Lawrence by Quebec City



Die "Plains of Abraham" (Slagveld)


Die "Citadel" by Quebec City.



Straat toneel in ou Quebec City 


 

Wednesday, 28 August 2013

28 Augustus 2013. Ottawa (OT) na Montreal (QE)

Na ontbyt stap ons bietjie in Ottawa, die Hoofstad van die Republiek van Kanada, rond. Die stad is indrukwekkend, en myns insiens tekenend van 'n hoofstad van 'n land met 'n ryke geskiedenis wat van selfvertroue getuig. Dis rustig en mense geniet die somer (Die winters hier is baie, baie straf).

Een van die belangrikste landmerke is die Rideau Kanaal wat in omtrent 1812 deur die Britte gebou is om die Amerikaanse bedreiging van die nouer dele van die St Lawrence seeweg tee te werk, en oop kontak met Toronto in die Weste te verseker. Die kanaal strek oor omtrent 100km van Kingston aan die St Lawrence in die suide tot in Ottawa (die Ottawa rivier) in die noorde.  "n Reeks van "locks" (sluise?) is in die kanaal aangebring sodat dit bevaarbaar is.

In die winter vries die Rideau kanaal en is dit 'n wereldbekende skaatsbaan, mense gebruik dit selfs om werk toe te skaats!

Ons vertrek na ons uitstappie in Ottawa na Montreal, wat omtrent 190km ver is. 

Sodra ons die Quebec provinsie (vanuit Ontario) binnegaan, verander die hele gevoel van die plek. Dit voel asof ons in Frankryk is. Die kroon op die padtekens word vervang met die Fleur de Lis (vlag van die Bourbon Koninghuis voor die Franse Rewolusie.) Dit is belangrik om te onthou dat die bande tussen Frankryk en Quebec deur die Engelse voor die Franse Rewolusie in die wiele gery is, vandaar dat verskynsels van Frankryk  voor die rewolusie nog in Quebec teenwoordig is. 

Montreal voel na 'n goeie stad om in te bly. Die stad het ook 'n baie interresante Franse (en Engelse) geskiedenis. Die Franssprekende bevolking is egter duidelik in die meerderheid en Frans is die voertaal. Met Gerrit  se kennis van Frans kom ons baie goed reg en word vriendelik ontvang.

Ons stap voor ons eet deur die ou stad van Montreal wat naby die rivier is, en geniet ook aandete daar. Dit voel asof mens in Parys, Frankryk, is.

Weer 'n interresante dag waar baie geleer is. Die wereld is voorwaar 'n interresante plek!

Die Parlementsgebou in Ottawa


Die sentrale deel van Ottawa-netjies, skoon en veilig.


Die oorlog tussen Britanje en die VSA is nog 'n groot deel van die geskiedenis hier


Die Rideau kanaal met die laaste reeks sluise "locks" voor die Ottawa rivier in die verte. Die neem 1 1/2 uur om deur die reeks sluise met 'n boot te kom.



Boot in die laaste sluis van die Rideau kanaal


Gerrit by die Rideau kanaal. Hier skaats die mense in die winter werk toe!


Onverwagse name vind mens-selfs in Ottawa. Wie sou nou kon dink dat die naam "Pretoria' ook hier in die verte sou vestig? (Waarskynlik van die Boere oorlog se tyd.)


Ons neem die pad na Montreal-die kroon verskyn nog op die padtekens.



Skielik is ons in Quebec. Die padtekens is NET in Frans, en die kroon van die Britse koningshuis op die padtekens word deur die "Fleur de Lis" vervang



Die vlag van die Franse koninghuis voor die Franse rewolusie-Fleur de Lis


Quebec se nommer plaat-populer vertaal volgens my (Gerrit stem in die algemeen saam)-"Onthou jou erfenis"


Ons hotel in Montreal


Die "Basilique Notre-Dame de Montreal" in die ou stad-in die dag, en in die aand



Tonele van die ou stad van Montreal





Aandete by 'n straatkafee in ou Montreal met Gerrit