Kan nie glo dat die week saam met Gerrit vandag klaar is nie!
Die tyd het regtig baie gou verbygegaan, soos dit maar doen wanneer jy iets geniet.
Dis betrokke (en het gedurende die nag gereen) wanneer ons na die Jean Lesage lughawe ry. Dis 'n klein, plaaslike lughawe en glad nie besig nie. Gerrit en ek eet by Tim Hortons op die lughawe ons omtbyt saam voordat ek die pad Suid terug na VSA toe vat.
Die eerste deel van die pad in Quebec is 'n pragtige snelweg, maar daarna word dit moeiliker soos die pad deur die dorpies van Beauceville en Saint-Georges gaan en daar baie padwerke is. (Een ding is seker, ek dink nie die siviele ingenieursbedryf in Noord Amerika sukkel nie).
Die landskap verander van plat na baie heuwelagtig soos ek Maine nader. Die deurgang na die VSA is makliker as in Montana en dit neem 3 minute, waarna ek Maine binnegaan deur een van die slegs twee teerpaaie wat Maine in die Noord ooste met Quebec verbind. Dit is verlate, wilde wereld hierdie met min karre, digte natuurlike en ongerepte boomplantasies wat baie heuwelagtig, of selds bergagtig is.
Soos ek na die suide vorder, word die tekens van beskawing al hou duideliker en word dit al hoe besiger. Ek ry deur Waterville, Augusta en Brunswick voordat ek by die winkel kompleks in Suid Portland aandoen om iets by die Apple winkel te koop.
Dit is "Labor" day Maandag in die VSA-dus langnaweek-en ek is bevrees dat dit moeilik gaan wees om akkomodasie te kry. Gelukkig het ek al geleer om te vra, en die vriendelike leiding en hulp wat ek kry loop daarop uit dat ek voor 17h00 'n plek by 'n motel teen die Atlantiese Oseaan het, met direkte toegang tot die strand. Dit is by Pine Point in Scarborough (Liedtjie) net suid van Portland, Maine.
Eet seekos slaai en chowder vir aandete by die Clambake Restaurant (sien more se verslag)
Weereens 'n goeie dag, wat ek geniet het alhoewel ek die geselskap mis wat ek nou vir byna 5 weke gehad het.
Gerrit met Tim Hortons koffie by die lughawe in Quebec City, net voor ek die pad vat
Ons se totsiens aan Quebec City (en later Quebec)
Die Noorde van Maine. Heuwelagtig, wild en bebos. Die blare wil-wil begin te verkleur
Daar is heelwat mere in Noordelike Maine
Die Kennebec Rivier
Die Wyman Dam op die Kennebec by die dorpie Moscow in Noordelike Maine
Die pragtige geplaasde akkomodasie by die Lighthouse Motel in Scarborough waar ek oornag
My kamer is die heel op die punt onder-naby die see wat net agter die aangeplante gras op die duin is
Bertie op Pine Point se strand-geneem deur vakansiegangers van Montreal. Die strand front gedeeltelik Suid-Wes-kyk my skaduwee 17h30 in die middag









No comments:
Post a Comment