Friday, 23 August 2013

23 Augustus 2013. Wall (SD) na Eau Claire (Wisconsin)

Vandag is waarskynlik die moeilikste dag in my reis.

Ek moet 520 myl teen drie uur (VSA sentrale tyd) vanmiddag af le om Gerrit betyds by Minneapolis lughawe op te laai. Benewens dit, verloor ek nog 'n uur soos ek Oos ry-van "Mountain Time" na "Central Time".

Vandag moet ek die Prairies se rug spreekwoordelik "breek". 

Daar is baie onlangse geskiedenis hier op die Priaries-o.a. oos van die Ellington lugmagbasis by Rapid City (SD) die "minuteman" silo's wat die South Dakota platteland landskap baie gevaarliker gemaak het as wat dit op die oog af lyk  met hul ICBM's gereed in die tyd van die koue oorlog. Skrikwekkende gedagte.

Ek staan 04h30 (Sentrale Tyd) op en vat die pad Ooswaarts deur die Prairies beginnende aan die Ooste kant van South Dakota. Dis 'n goeie pad met padweke wat die dubbelbaan plek plek sluit en in 'n enkelbaan verander vir solank as 30 myl op 'n slag. So groot is die afstande dat ek byna vir 'n uur teen 77 myl per uur ry voordat ek in kontak met 'n ander voertuig wat in my rigting ry, kom (dis 'n vragmotor wat ek inhaal, en die vragmotors ry baie vinnig op die snelwee).  Vir omtrent 'n uur en 'n half ry ek ook deur digte, vroeg oggend, South Dakota mis wat my baie moeg maak. 

Die een dorpie volg op die laaste  een met reelmaat op-Kadoka, Okaton, Draper, Presho. Ek trek van die pad af by 'n dorpie met die naam van Kimball om vol te maak en ontbyt  te eet en koffie te drink. In die eetplek is daar ook drie plaaslike boere wat hulle weeklikse ontbyt, na die koeie gemelk is ens. eet en oor nuus gesels. Dis baie, baie ver van enigiets, insluitende hulp, af en hulle onafhanklike gees is vir my duidelik. Ek druk deur ooste toe en net na Sioux Falls teen omtrent 11 uur gaan ek oplaas Minnesota binne. Ek stop by die Minnesota inligtingskantoor en kry waardevolle padverleggings inligting. 

Die ding wat my die meeste opval in Minnesota is die reuse (ek praat van honderde op honderde op honderde)  windplase met maste langs die pad. So 'n skaal het ek nog nie gesien nie. Ek nader Minneapolis van die suid weste en is gou in die verkeer rondom die stad vas. 

Baie dankbaar stop ek om presies drie uur  in die parkeergarage by Minneapolis Intenasionale Lughawe. Ek verneem dat Gerrit se vliegtuig om 15h10 (20 minute vroeg) geland het en ek het skaars tyd om koffie te drink en Gerrit is deur en by my. Baie bly en dankbaar om hom te sien. 

Ons gaan eet 'n Joe Sebastian roomys in een van Minneapolis se voorstede, en vertrek dadelik met die kap af Ooswaarts deur  St Paul na Wisconsin toe, waar ons by Eau Claire stop vir die aand. 

Ek is moeg, maar baie dankbaar. Die motor het hom weereens uitstekend gedra. Ons het meer as 2000km in 'n dag en 'n half gery.

Gaan Minnesota binne


Gerrit en ek eet Joe Sebastian roomys in 'n voorstad van Minneapolis.


Die stad Minnepolis





Ons gaan Wisconsin binne



Tipiese Wisconsin plaasgeboue-die winters is duidelik straf, beide vir mens en dier.







No comments:

Post a Comment